ANC beleidskonferensie moet na korrupsie kyk

Die ANC se beleidskonferensie vind eerskomende Vrydag by NASREC in Johannesburg plaas. Dit is belanrik om net eers kennis te neem dat die beleidskonferensie nie oor die bevoegdheid beskik om ANC beleid te wysig nie. Daar word na bestaande beleid gekyk en wysigings word voorgestel.  Slegs by die ANC se nasionale konferensie word hierdie voorstelle in oorweging geneem en word wysigings aan bestaande beleid aanvaar of afgekeur. Mediaberigte dui daarop dat die ANC homself daarmee getaak het om die uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid te ondersoek.

Dit is duidelik dat die komende beleidskonferensie baie sterk daarop gaan fokus om eenheid binne die party te bewerkstellig. Op die voorblad van elkeen van die besprekingsdokumente staan daar: “Kom ons verdiep eenheid”. Maar waarom is dit so belangrik om eenheid te bevorder terwyl daar duidelike teenkanting teen president Jacob Zuma is? Die antwoord is ‘mag’. Die vrees binne die ANC is nie dat Zuma se gewildheid gaan taan nie maar eerder dat dit daartoe lei dat die ANC in die proses hulle mag verloor.

Alhoewel armoede en werkloosheid ongetwyfeld aandag moet geniet behoort die ANC se beleidskonferensie veel eerder voorstelle te formuleer om korrupsie aan te spreek. President Zuma se ongesonde verhouding met eers die Schaik- en later die Guptafamilie maak dit duidelik dat korrupsie `n reuse probleem binne die ANC is. Eintlik is die groter probleem die ANC se onvermoë om dit aan te spreek. Na twee termyne is Zuma steeds nie, soos sy voorganger Thabo Mbeki, herroep nie. In die parlement staan die speaker, Baleka Mbete, soos `n wafferse hekwagter tussen die president en opposisiepartye. Geen vrae oor korrupsieaantygings word in die nasionale vergadering geduld nie.

Intussen slaag die Zuma-faksie binne die ANC meesterlik daarin om Zuma se kritici binne die party as verraaiers uit te kryt wat die ANC probeer ontsetel. En die enigste manier waarop die anti-Zuma faksie buite die ANC die politieke terrein kan betree is as hulle bereid is om soos hulle voorgangers in COPE, die UDM en die EFF in die opposisiebanke te sit. Dus kom daardie klein woordjie weer ter sprake – ‘mag’.

Te oordeel aan die uitslae van die afgelope munisipale verkiesing lê die beskerming van mag en die keuse om die ANC as die regerende party te behou nie by die Zuma- of die anti-Zumafaksie nie. Die kiesers sal besluit of hulle bereid is om vir `n party te stem wat nie die bereidwilligheid toon om korrupsie aan te spreek nie. In die afgelope munisipale verkiesing is daardie protesstem uitgebring deur weg te bly van die stembus – nie deur vir `n ander party te stem nie. En tensy die ANC daarin slaag om sy kiesers te oortuig dat hulle korrupsie kan aanspreek en skuldiges tot verantwoording roep kan hy dieselfde uitslag in 2019 te wagte is. Dit is goed dat die ANC se beleidskomitee armoede en werkloosheid by die komende beleidskonferensie bespreek. Dit is egter baie belangriker om `n beleid te formuleer oor die hantering van korrupsie binne die party.