Waarom swart mense Orania dikwels beter verstaan as Afrikaners

(Die artikel het oorspronklik by www.oraniablog.co.za verskyn)

Dit is `n tipiese somersdag in voorstedelike Johannesburg. Oomblikke gelede het die klokkie by die sekuriteitshek gelui en Marie maak die hek vir Betta, hul getroue huishulp oop. Marie kyk by haar venster uit en waai vir die vriendelike oom wat met sy gholfkarretjie rondrits. Die veiligheidskompleks waarin hulle woon bied aan haar die geleentheid om later rustig te gaan stap en die somersoggend te geniet. Sy kyk op haar horlosie en herinner haarself daaraan dat sy later vir die DA moet gaan stem.  Sy wil immers nie hê dat die ANC die wyk in vandag se tussenverkiesing wen nie.

Voor sy gaan stap skakel sy eers die televisie aan en skud haar kop vir die onsinnige betogings wat tans op kykNET se program, Dagbreek bespreek word. Dan beweeg die program se bespreking na die onrus op universiteitskampusse. “Barbaars,” mompel sy sag genoeg dat Betta haar nie hoor nie. Nie dat Betta ooit op Pukke of Tuks studeer het nie. Sy dink nostalgies terug aan die “goeie ou dae” op universiteitskampusse. Die kêrels wat buite die koshuis se kamervensters sêr, Oom PW wat sy vinger vir die terroriste swaai en die dienspligontduikers in die tronk. Oppad stembus toe sien sy vanoggend se Beeld by die voordeur lê. Sy blaai vinnig deur en trek haar gesig soos iemand wat suurlemoen geproe het vir Adriaan Basson se jongste redaksionele kommentaar. Sy sit die koerant op die tafeltjie by die voordeur en herinner haarself dat sy later vanoggend die intekening moet hernu.

Die stembus is nog stil. Dit is basies net sy en enkele van haar bure daar. Hulle gesels oor die weer en die nuwe bestuur by die klubhuis waar die spyskaart nou ook sushi insluit. Marie spog oor haar kinders se jongste rapport. Cornel Primary is `n uitstekende skool en berei hulle goed voor. “Julle moet hoor hoe mooi praat hulle Engels,” sê Marie met `n vonkel in haar oog.

Ongeveer 900 kilometer van daar af in die landelike Oos-Kaap sit `n Xhosa-hoofman met sy kop in sy hande. Hy is moedeloos en die probleme hou nie op nie. Hy kyk op en sy oë val op die klein skooltjie in die middel van die gemeenskap. Die kinders speel sorgeloos buite. Hulle lag en gesels. Hy dink aan vanoggend se gesprek met die skoolhoof.

“Die kinders sukkel van graad vyf af om by te hou met die leerplan. Hulle is nie gemaklik met Engels nie,” het die skoolhoof verduidelik.

“Maar leer hulle dan in hulle moedertaal, Xhosa,” het die hoofman die probleem afgemaak.

“Ons mag nie,” het die skoolhoof geantwoord. “Die Departement verplig ons om hulle van graad vyf af in Engels te onderrig.”

Die uitdrukking op die hoofman se gesig was een van totale ongeloof. “Maar ons kinders het die minimum blootstelling aan Engels.”

Vanoggend se gesprek het die hoofman moedeloos. Hoe kan jy kinders as die toekoms van die land beskryf as jy hulle van `n basiese reg op opvoeding ontneem? Hoe kan elf tale in die grondwet erken word maar net een in die skole toegelaat word? Dan kyk die hoofman weer na die papier in sy hande. Dit kom van die plaaslike stadsraad af. Vir baie jare het die hoofman en sy raad erwe aan jong paartjies na hulle troudag toegeken. Die stukkie grond was groot genoeg om `n hut op te rig, `n paar beeste aan te hou en groente te plant. Dit is `n eeue-oue tradisie. Die munisipaliteit het hom egter in kennis gestel dat hy en sy ouderlinge nie meer grond kan toeken soos hulle goed dink nie. Die egpaar moet na die naaste munisipale kantore reis en daar die nodige aansoekvorms invul. Daarna sal hulle op `n waglys geplaas word vir `n HOP-huis.

Die hoofman kan nie verstaan waarom hulle, as gemeenskap, nie hulself kan regeer nie. Waarom moet `n munisipale regering vir hulle besluit hoe eiendom toegeken word? Waarom moet `n Departement van Onderwys besluit in watter taal hulle kinders onderrig word? Die hoofman skud sy kop en tel eerder sy koerant op. Sy gunsteling rubriekskrywer, Johnny Masilela, se artikel vang sy oog. ‘An expedition into Orania.’

Linkse onverdraagsaamheid en die opkoms van die nuwe verkramptes

(Die artikel het oorspronklik by www.maroelamedia.co.za verskyn)

Die Amerikaanse president, Donald Trump, se inhuldigingstoespraak moes Vrydagaand kompeteer vir mediadekking met `n paar betogers wat die polisie uitgetart het terwyl hulle plakkate met anti-Trump slagspreuke rondswaai. Die polisiemagte het die situasie professioneel ontlont en Trump se presidensiële konvooi kon deur die strate van Washington DC beweeg. Die volgende dag was daar egter weer protesoptogte waaraan duisende vroue regoor Amerika aan deelgeneem het. Weereens was die rede vir hulle ongelukkigheid Donald Trump.

Sedert sy verkiesing het verskeie bekendes hulle ongelukkigheid oor hierdie verwikkeling uitgespreek. Die sangeres Miley Cyrus het haar emosionele ineenstorting op kamera vasgelê en dit op YouTube geplaas, Meryl Streep het `n toespraakgeleentheid by die Golden Globes misbruik om Trump te kritiseer en Madonna het gedreig om die Withuis op te blaas. Natuurlik bestaan daar iets soos vryheid van spraak en natuurlik is dit heeltemal aanvaarbaar om deur middel van protesaksies te wys hoe ongelukkig jy met `n bepaalde gebeurtenis is. Dit is egter onbillik om `n presidensiële termyn te veroordeel nog voor die president by die withuis ingestap het.

Die kritiek op Trump se verkiesing en die onverdraagsaamheid wat daarmee gepaard gaan is `n toenemende verskynsel onder diegene wat hulself links in die politieke spektrum posisioneer. Daar is woede as `n demokratiese verkiesing lei tot `n president waarmee hulle nie tevrede is nie, daar is woede as `n konserwatiewe meningsvormer genooi word om `n universiteit toe te spreek of daar is woede as `n winkelsentrum besluit dat badkamers slegs vir twee geslagte voorsiening maak – mans en vroue.

Die verskynsel van die tipe onverdraagsaamheid is egter nie tot Amerika beperk nie. In Suid-Afrika kom dit voor as jy nie inskakel by wat as die politieke norm gesien word nie. Een van die kenmerke van linkse onverdraagsaamheid is `n absolute weiering om ander se standpunte in te sien of selfs ruimte te laat vir oortuiging. `n Goeie voorbeeld hiervan is die sangeres wat verby Orania ry en nie die moeite doen om uit te vind hoe die gemeenskap funksioneer en waaroor dit gaan nie. Sy stop slegs om `n foto voor die bord wat aandui dat jy nou in Orania is te neem met haar twee middelvingers in die lug. Geen ruimte vir debatvoering nie en geen bereidwilligheid om ander se standpunte aan te hoor nie.

In 1966 spreek die voormalige koerantredakteur en akademikus, dr Willem de Klerk `n SABRA-jeugkongres toe waar hy van die terme verlig en verkramp gebruik maak. Die verkramptes is diegene wat onverdraagsaam is teenoor verandering, ander se standpunte en enige gebeure of uitlatings wat nie versoenbaar is met hulle eie baie beperkte manier van dinge sien nie. Dit sal interessant wees om te sien na wie dr De Klerk vyftig jaar later as die verkramptes verwys.

 

Afrika Unie: `n nuwe voorsitter en nuwe geleenthede

(Die artikel het oorspronklik by www.maroelameda.co.za verskyn)

Staatshoofde het hierdie week by die Ethiopiese hoofstad, Addis Ababa bymekaargekom waar hulle Moussa Faki Mahamat, Tsjaad se minister van buitelandse sake, as die nuwe voorsitter van die Afrika Unie aangewys het. Hy neem die voorsitterskap by dr Nskosazana Dlamini-Zuma oor. Mahamat het `n paar prominente kandidate vir die plek uitgestof. Onder meer Amina Mohamed, Kenia se minister van buitelandse sake, Abdoulaye Bathily, `n diplomaat en akademikus van Senegal en Mba Mokuy, voorheen `n senior raadgewer vir die president van Ekwatoriaal Guinee.

Die Afrika Unie bestaan uit 54 state en `n twee derde meerderheid of 36 stemme is dus nodig om die voorsitterskap te verseker. Dit het Mahamat sewe rondtes van stemming geneem om die nodige stemme op hom te verenig. Die AU was veronderstel om reeds in Julie verlede jaar `n nuwe leier te verkies maar na drie rondtes kon nie een van die kandidate daarin slaag om die minimum 36 stemme op hulle te verenig nie. Meer as 50% van die ledestate het verlede jaar nie aan die tweede rondte van die verkiesing deelgeneem nie. Die stryd om `n opvolger te kies kan toegeskryf aan die grootskaalse verdeeldheid tussen die onderskeie streke in Afrika.

Mahamat het vanaf 2003 tot 2005 gedien as die eerste minister van Tsjaad. Hy was ook voorheen betrokke by die Afrika Unie waar hy as die voorsitter van die ekonomiese, sosiale en kulturele raad gedien het. Hy dien sedert 2008 as Tsjaad se minister van buitelandse sake. Mahamat het onlangs gesê dat hy droom van `n Afrika waar die knal van geweerskote oorweldig word deur die klanke kulturele liedjies en die gedruis van fabrieke. Hy het ook onderneem om die AU se reputasie vir burokrasie aan te spreek en onnodige aanstellings van nog amptenare stop te sit. Hy was ook aktief betrokke by die stryd teen Islam-terreurgroepe.

Daar word dikwels gevra of die Afrika Unie van enige waarde is. Anders as die Europese Unie word daar nie groot besluite oor immigrasie geneem wat bindend op alle lidlande is nie. Daar is ook nie sprake van `n sentrale geldeenheid soos die Euro nie. Dit is waar maar wat wel in gedagte gehou moet word is die feit dat belangike Afrikakwessies daar bespreek word – die verskynsel van ekstremitiese Islam, die kontinent se verhouding met Amerika en lidlande se houding teenoor die Internasionale strafhof. Verder het die AU `n belangrike gerol gespeel om te verseker dat Gambië se demokraties verkose president sy plek kon inneem nadat die verloorder, Yahya Jammeh geweier het om uit tree.

Kan die Afrika Unie meer doen? Ongetwyfeld. Die Afrika Unie kan diktators soos Robert Mugabe van Zimbabwe uit die kussings lig en verseker dat oorlogskriminele soos Omar al-Bashir van Soedan in hegtenis geneem word. Die Afrika Unie kan meer doen om `n dreigende etniese oorlog in Suid-Soedan te verhoed. Daar is baie meer wat die Afrika Unie kan doen en ons kan net hoop dat dit vorentoe `n belangrike bydrae sal lewer om stabiliteit op die kontinent te bevorder.